Op Saterdag, 4 Februarie 2023, het die Stad Tshwane se nooddiensdepartement om 16:50 ’n oproep ontvang oor drie mans wat deur die Apiesrivier naby die Pretoria Dieretuin na die reën meegesleur is, nadat storms die vorige dag ervaar is. Personeel van die Bosman-brandweerstasie en Innesdale-brandweerstasie is na die voorval uitgestuur.
Met aankoms by die voorval het twee mans vertel dat hulle die vorige dag deur die rivier meegesleur is en daarin geslaag het om te ontsnap, terwyl die derde man nie kon ontsnap nie.
Terwyl die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se duikeenheid ’n soektog na die derde man van stapel gestuur het, is sy liggaam gevind wat in die Apiesrivier onder ’n brug op die K8 (Rosslynweg) gedryf het. Die personeel van die Innesdale-brandweerstasie is toe na die K8-brug herlei.
Reddingswerkers van die Stad Tshwane het saam met die SAPD se duikeenheid gewerk om die liggaam uit die rivier te haal. ’n Beskrywing van die opgespoorde lyk is met die brandbestryders gedeel wat nog op die toneel was saam met die ander twee mans naby die Pretoria-dieretuin. Die mans het bevestig dat die opgespoorde lyk dié van hul vriend was wat die vorige dag meegesleur is.

“Ons wil graag mense aanraai om brûe oor riviere en die riviere self te vermy wanneer dit reën. Dit kan stroomop reën, wat die watervlakke sonder enige waarskuwing laat styg. Die stormwaterstelsels kan baie water in die rivier indra, wat die watervlakke vinnig en sonder waarskuwing kan laat styg,” lui ’n verklaring.
Die omstandighede wat tot die verdrinking van die man gelei het, is die onderwerp van ’n ondersoek deur die SAPD.