Kobus Hoffman, VF Plus-lid van die Gautengse provinsiale wetgewer, het die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, gevra om verslag te lewer oor die diefstal en verlies van bewysstukke uit die 13-pakkamers by polisiekantore in dié provinsie.
Die party het die verslag aangevra na aanleiding van verskeie klagtes dat bewysstukke verkoop of gesteel word of net verdwyn uit dié pakkamers.
Sake waarvan die bewysstukke verdwyn, word selde suksesvol afgehandel wat beteken dat vermeende misdadigers skotvry daarvan afkom.
Die VF Plus is oortuig daarvan dat die ouditproses van die 13-pakkamers gebrekkig is weens die swak werksetiek van senior offisiere en stasiebevelvoerders.
Wanneer ʼn vuurwapen, wat ʼn bewysstuk in ʼn misdaad is, uit ʼn pakkamer verdwyn, is die kanse groot dat so vuurwapen weer in ʼn misdaad gebruik kan word.
Die VF Plus sal die verslag noukeurig bestudeer en self ook ʼn ondersoek uitvoer om die erns van die saak te bepaal.
“Die beheer van bewysstukke is belangrik om beweerde misdadigers suksesvol te vervolg en te voorkom dat vuurwapens in die verkeerde hande beland,” meen Hoffman.