Die Demokratiese Alliansie (DA) het Woensdag ’n dringende versoek aan die Eskom-bestuur ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) opgestel en ingedien.
“Die doel van hierdie versoek is om alle inligting en bewyse tot Eskom se beskikking te bekom rakende die beweerde ANC-baasbrein agter die sistemiese korrupsie wat ons land se elektrisiteitsvoorsiening op sy knieë gebring het,” sê John Steenhuisen, DA-leier, ’n verklaring.
In ’n onlangse onderhoud het die uittredende Eskom-hoof, André de Ruyter, bevestig dat die ANC Eskom as “’n voerbak beskou”.
Hy het bygevoeg dat hy ’n kabinetsminister “uitgewys” het dat daar een spesifieke hoëvlak-politikus was wat hierby betrokke was.
In plaas daarvan om hierdie plofbare bewering ernstig op te neem, het die betrokke minister blykbaar gesê: “Ek dink dit was onvermydelik dat dit in elk geval sou uitkom,” wat daarop dui dat die ANC deeglik bewus is van die persoon se identiteit.
De Ruyter het verder bevestig dat die “hoëvlak-politikus” agter die plundering by Eskom ’n sittende parlementslid is.
“In die belang van aanspreeklikheid, deursigtigheid en die bekamping van die ANC-korrupsie wat die beurtkragkrisis veroorsaak het, sal die DA se PAIA-versoek Eskom-bestuur verplig om nie net die naam van die betrokke senior ANC-politikus bekend te maak nie, maar ook om alle inligting en bewyse tot hul beskikking oor die ANC se betrokkenheid by korrupsie by Eskom te ontbloot,” sê Steenhuisen.
“Anders as die huidige regerende party, neem die DA hierdie onthullings uiters ernstig op en sal elke middel tot ons beskikking gebruik om tot die bodem van die kriminele ANC-sindikaat agter korrupsie by ANC te kom.”
Sou hierdie inligting deur die DA se PAIA-versoek geverifieer word, sal de Ruyter se onthullings onomkeerbare bewyse lewer dat die ANC “as beskuldigde nommer een staan vir die ineenstorting van die Suid-Afrikaanse elektrisiteitstelsel en die lyding wat dit die 60 miljoen mense van hierdie land berokken.”
Die DA doen ’n beroep op die Eskom-bestuur om aan sy PAIA-versoek te voldoen sodat die mense van Suid-Afrika uiteindelik die volle waarheid oor die ANC-poppemeesters agter die ineenstorting van Eskom kan weet.
Jy kan die versoek hieronder lees:
PAIA_Request-1LEES OOK: