André de Ruyter, uittredende uitvoerende hoof van Eskom, sal die kragreus met onmiddellike effek verlaat.
Dit is pas deur die kragvoorsiener bevestig.
“Na ’n spesiale raadsvergadering op 22 Februarie 2023, het die Eskom-direksie en die groep se uitvoerende hoof Andé de Ruyter 'n onderlinge ooreenkoms bereik om sy kennistydperk tot 28 Februarie 2023 te verkort,” het Sikonathi Mantshantsha, woordvoerder van Eskom, in 'n verklaring gesê.
“Die direksie het verder besluit dat daar nie van de Ruyter vereis word om die res van sy kennistydperk uit te dien nie maar dat hy met onmiddellike effek uit sy pos ontslaan sal word. Reëlings rondom 'n waarnemende uitvoerende hoof word met die aandeelhouers en ministers gefinaliseer en sal binnekort gekommunikeer word.”
De Ruyter sou aanvanklik tot einde Maart 2023 as uitvoerende hoof aangebly het.
AfriNUUS verneem dat hy Eskom voortydig verlaat ná sy omstrede onderhoud op eNCA waarin hy beweer dat 'n hoëvlak-politikus – in die ANC – by korrupsie by die kragvoorsiener betrokke is. Sy identiteit is nie bekend nie, alhoewel die DA 'n brief aan Eskom geskryf het om sy identiteit te ontbloot.
Suid-Afrikaanse politici was volgens de Ruyter aandadig aan korrupsie en kragstasie-sabotasie wat die nutsdiens geknou het.
Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het Woensdag teruggekap ná die onderhoud en sy inmenging by die politiek veroordeel.
Gordhan het hom gekla vir “dat hy inmeng met politiek” in plaas daarvan om daarop te fokus om beurtkrag te beëindig.
“Wat belangrik is, is dat uitvoerende hoofde van enige entiteit, insluitend Eskom, nie by oop politieke debatte of bewerings betrokke moet wees nie, en waar hulle politieke sienings het, is dit hul private besigheid en hulle is welkom om daardie standpunte privaat uit te druk.”
Dirk Hermann, Solidariteit-hoof, het ná die aankondiging gesê: “André de Ruyter is ‘n hedendaagse held. Hy was in ‘n sisteem waar daar nie plek is vir harde werk, oplossings en eerlikheid nie. Eerlikheid was die finale strooi vir die korrupte stelsel. Dit word nie geduld nie en hy moet onmiddellik loop. Ek salueer vir André.”
De Ruyter was die Eskom-hoof sedert Januarie 2020.
AfriNUUS verneem dat de Ruyter sy tassies sal pak en tyd oorsee sal neem nadat hy Eskom verlaat het.
AfriNUUS kan verder bevestig dat fase 6-beurtkrag onbepaald ingestel sal word.
Lees meer: