’n Nuwe studie het swak werksomstandighede bevind, selfs op sommige Fairtrade-gesertifiseerde plase.
Deur Liezl Human (GroundUp)
- Nuwe navorsing het bevind dat sommige plaaswerkers op Fairtrade-gesertifiseerde wynplase, wat aan internasionale standaarde gehou word, steeds swak behuising het, en ’n gebrek aan toegang tot water en toilette.
- Die bevindinge van die studie, in opdrag van die Women on Farms-projek, is Woensdag by ’n geleentheid in die Paarl bekendgestel.
- Minstens 54% van die vroue wat ondervra is, het gesê hulle word gereeld of tuis aan plaagdoders in die wingerde blootgestel. Dit strook nie met internasionale beste praktyk nie.
Nuwe navorsing oor verskeie Fairtrade-gesertifiseerde wynplase in die Kaapse Wynlande het bevind dat die werk- en lewensomstandighede by sommige van hierdie plase nie voldoen aan die standaarde wat Fairtrade International stel nie.
Fairtrade-gesertifiseerde plase is veronderstel om internasionale standaarde vir billike werksomstandighede te handhaaf, insluitend betaling van die minimum loon, die reg op kollektiewe bedinging, en voldoende behuising, onder meer. Boere wat gesertifiseer is, kan gewoonlik teen ’n hoër prys uitvoer. Die premie wat op Fairtrade-gesertifiseerde produkte betaal word, is veronderstel om in ’n aparte rekening gehou te word en gebruik te word om die omstandighede van werkers en boere te verbeter.
Die navorsers het onder meer swak behuising op sommige plase gevind, werkers wat minder as die minimum loon verdien, blootstelling aan skadelike plaagdoders en ’n gebrek aan toilette en toeganklike water. Die studie het egter ook sommige van die verbeterings wat aan die lewens- en werksomstandighede op hierdie plase gemaak is, uitgelig.
Die studie, in opdrag van die Women on Farms Project (WFP), is saamgestel deur die onafhanklike navorser Celeste Fortuin wat onderhoude gevoer het met 50 vroue op 18 Fairtrade-gesertifiseerde plase.
Die studie het verskeie kommerwekkende punte geopper wat die volgende insluit:
- 25% van die plase het “swak” of “baie swak” behuising vir werkers.
- 31% van werkers verdien minder as die Nasionale Minimumloon van R25,42 per uur.
- 54% van die vroue wat ondervra is, word gereeld of tuis aan plaagdoders in die wingerde blootgestel. Dit is nie in stryd met internasionale beste praktyk nie.
- 35% van vrouewerkers wat ondervra is, het nie toegang tot toiletgeriewe in die wingerde waar hulle heeldag werk nie.
Dit het egter ook aspekte van die Fairtrade-gesertifiseerde plase uitgelig wat werk. Die meeste van die plaaswerkers met wie onderhoude gevoer is, het in goeie omstandighede gewoon en almal wat ondervra is, het toegang tot elektrisiteit gehad. Op almal behalwe een van die plase wat ondervra is, het permanente en seisoenale werkers skriftelike kontrakte ontvang.
Women on Farms het Woensdag van die bevindings tydens ’n bekendstelling in die Paarl aangebied. Daarna het sowat 150 plaaswerkers na die Arbeidsentrum in die Paarl opgeruk en ’n memorandum oorhandig.
Hulle wil hê die departement van arbeid moet gereeld inspeksies op plase doen sonder om die plaaseienaars eers in kennis te stel, en hulle wil hê dat vroulike seisoenale plaaswerkers by die inspeksies ingesluit moet word. Hulle wil hê dat alle plaaswerkers ná die inspeksie van die uitslag ingelig moet word, en waar die plase arbeidswette oortree het, wil hulle hê eienaars moet binne 30 dae regstellende stappe neem of die opskorting van verkope in die gesig staar. Die werkers meen dat harder strawwe op plase opgelê moet word wat arbeidswette oortree.
Colette Solomon, direkteur van die WFP, het gesê dit is “skokkend” dat sommige van die oortredings wat in die verslag opgemerk is, steeds op Fairtrade-gesertifiseerde plase plaasvind en “nodeloos om te sê dat dit ook op ongesertifiseerde plase plaasvind”. Sy het ‘n “gebrek aan handhawing” van arbeidswette en ’n probleem met die manier waarop inspeksies uitgevoer word, blameer.
Solomon het gesê daar is ook probleme met die manier waarop die departement klagtes van arbeidskantore hanteer. Baie vroulike plaaswerkers sukkel maande lank om hul werkloosheidsvoordelebetalings van arbeidskantore te kry ten spyte daarvan dat hulle tot die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) bygedra het, het sy gesê.
Ntombi Magadla, ’n plaaswerker in Wolseley, het aan GroundUp gesê sy is van pilaar tot pos gestuur deur amptenare van die departement van arbeid toe sy probeer het om laer as die minimum loon op die plaas waar sy werk aan te meld. Magadla het gesê die verhoging van die minimum loon tot R25,42 per uur in Maart het meegebring dat plaaswerkers nou minder werksure en dae toegewys word.
Cebo Kutuka van die arbeidsdepartement se inspeksies en toepassingsdienste in die Wes-Kaap het ook die werkers tydens die bekendstelling Woensdag toegespreek. Hy het belowe dat amptenare deur die verslag sal gaan en later sal reageer. Hy het ook vroue op plase en werkers genooi om vergaderings met amptenare by te woon waar van die kwessies wat geopper is in meer besonderhede bespreek kan word.
Christo Conradie, ’n bestuurder by boereverteenwoordiger NPO Vinpro, het aan die gehoor gesê hy sal die navorsingsbevindinge na die organisasie se volgende vergadering neem.
Die provinsiale departement van arbeid het teen die tyd van publikasie nog nie op GroundUp se vrae gereageer nie.