Die DA het in ’n verklaring gesê dit het ontstellende inligting ontvang dat die Vrystaatse streekkantoor van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) minstens R1,5 miljoen aan ’n enkele geleentheid bestee het.
Volgens die party se bron het Sassa na bewering dit goed geag om R500 000 op ’n lokaal en R1 miljoen aan geskenke vir hul internasionale vrouedaggeleentheid op 28 Maart 2023 op te dok.
“Die DA sal skriftelike parlementêre vrae indien om vas te stel waarom ’n Agentskap wat gereeld versuim om die land se armste en mees kwesbare burgers betroubaar te dien en wie se kantore onderbeman en onderbeskik is, deurslaggewende fondse op hierdie manier sal mors,” sê Bridget Masango, DA-woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling.
Verlede jaar het die DA onthul dat slegs vier uit 212 Sassa-kantore wat die party landwyd gekontak het, hul telefone geantwoord het.
“Ons toesighoudings het skokkende werkomgewings en gereelde stelselonderbrekings aan die lig gebring wat begunstigdes van toelae dwing om veelvuldige reise te maak sonder om gehelp te word. Sommige kantore het nie eers behoorlike stoele vir die personeel gehad nie, en dit maak nie saak dat toelae-begunstigdes ure aaneen tougestaan het in alle soorte weer nie,” sê Masango.
Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het dit verder bevestig in ’n antwoord op ’n DA-parlementêre vraag waarin sy onthul het dat altesaam 435 en 175 Sassa-kantore onderskeidelik stelsel- en telefoonprobleme ondervind het.
“Die probleme was te wyte aan die Basiese Rekeningkundige Stelsel (BAS), Maatskaplike Sekuriteit Pensioenstelsel (Socpen), uitdagings vir biometriese identifikasiestelsels en elektriese en netwerkonderbrekings.”