Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, sal na verwagting volgende week Vrydag voor die parlement verskyn om te reageer op verdoemende aantygings deur die departement se geskorste direkteur-generaal, Kgathatso Tlhakudi, oor die omstrede transaksie tussen die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) en die Takatso-konsortium.
Die parlement se regsadviseurs sê die bewerings teen Gordhan oor die verkoop van die lugdiens moet aangespreek word.
Die parlement het regsmening ingewin oor Tlhakudi se bewerings en ’n beroep deur Floyd Shivambu, EFF-hoofsweep, vir ’n parlementêre ondersoek. Ander LP’s het ook ‘n ondersoek verwelkom.
Volgens Tlhakudi het Gordhan “onbehoorlik en onwettig” opgetree in die verkoop van die lugdiens.
Woensdag het die parlement se portefeuljekomitee vir openbare ondernemings besluit om Gordhan en Tlhakudi na sy volgende vergadering te roep om tot die bodem van die bewerings te kom.
Die vergadering sal na verwagting volgende week Vrydag plaasvind.
Die omstrede SAL-transaksie volg nadat die departement van openbare ondernemings twee jaar gelede aangekondig het dat hy die Takatso-konsortium as sy aandelevennoot gekies het om 51% van SAL, wat onder sakeredding geplaas is, oor te neem. Volgens sommige nuusdienste was die lugdiens vir R51 verkoop.