Samantha Graham-Maré, DA-skaduminister van elektrisiteit, het gesê skaars 24 uur nadat president Cyril Ramaphosa op ’n omstrede wyse in ’n antwoord op parlementêre vraag daarop gewys het dat hy nie weet nie en ook nie beplan om uit te vind watter ministers betrokke was by korrupsie by Eskom nie, hofstukke in ’n saak wat deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanhangig gemaak is, onthul dat die ANC R202 000 ontvang het van ’n Eskom-subkontrakteur wat Eskom na bewering bedrieg het.
“In ’n saak wat deur die NVG aanhangig gemaak is teen ’n aantal mense en organisasies wat Eskom oënskynlik met meer as ’n halfmiljard rand bedrieg het, is die bewerings dat die ANC ’n kontantbetaling van Impulse Supertrans, ’n Eskom-subkontrakteur, ontvang het. En hoewel hierdie saak tans onder litigasie is, doen die DA ’n beroep op Ramaphosa en die ANC om die R202 000 terug te betaal wat hulle blykbaar van die mense van Suid-Afrika gesteel het,” het Graham-Maré gesê.
Hierdie jongste onthulling is volgens die party die ‘duidelikste bewys’ nóg dat die ANC deel is van ’n kriminele netwerk wat direk by Eskom-korrupsie baat gevind het. Dit verklaar waarom Ramaphosa, lede van sy kabinet en ANC-LP’s in die Parlement ekstra moeite gedoen het om óf die bestaan van korrupsie by Eskom te ontken óf oproepe vir ’n parlementêre ondersoek na die kwessie te stuit.
“ANC-betrokkenheid by korrupsie strek verder as die betrokke saak en dit is juis hoekom die DA ’n mosie by die Parlement ingedien het waarin gevra word vir die instelling van ’n parlementêre ondersoek om die bewerings van korrupsie wat deur voormalige Eskom-uitvoerende hoof, André de Ruyter, geopper is, te ondersoek. Uiteraard bang vir wat so ’n ondersoek sou ontbloot, het die ANC sy meerderheid in die Parlement gebruik om die DA se mosie te verwerp. Gebaseer op die jongste onthullings van kontantgeskenke van ’n kontrakteur by Eskom, is dit duidelik dat die ANC-koukus hul oorsigrol ontwyk het om ANC-korrupsie by Eskom toe te smeer,” het Graham-Maré gesê.
“Met André de Ruyter wat volgende week voor Skoor (die staande komitee oor openbare rekeninge in die parlement) moet verskyn, sal die DA verseker dat hy die geleentheid kry om die verrotting wat Eskom op sy knieë gebring het en die Suid-Afrikaanse ekonomie op die rand van ineenstorting gebring het, bloot te lê. Dit is die enigste vorm van aanspreeklikheid wat die parlement oor die aangeleentheid sal hê, aangesien die nuwe Minister van Elektrisiteit, saam met baie ander staatsfunksies, in die Presidensie gesentraliseer is waarvoor daar geen parlementêre komitee is nie en dus geen aanspreeklikheid teenoor die publiek is nie.”
“Afhangende van die uitslag van die Skoor-verhoor, staan die DA gereed om aksie te neem en te verseker dat almal wat by korrupsie by Eskom betrokke is, tot verantwoording geroep word. Dit kan nie besigheid soos gewoonlik wees wanneer ’n sittende president weier om op te tree teen lede van sy kabinet wat by korrupsie betrokke is nie,” voeg Graham-Maré by.