Die DA sê ’n sinkgat het dele van Relebogile Sekondêre Skool in Februarie laat insak en leerlinge serdertdien verhoed om skool by te woon. Daarom het die party besluit om die LUR vir onderwys by die SAMRK aan te meld.
Khume Ramulifho, DA-woordvoerder oor onderwys in Gauteng, sê die Demokratiese Alliansie (DA) in Gauteng het die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) aangemeld vir die skending van Relebogile Sekondêre Skool-leerders se reg op toegang tot basiese onderwys.
Leerders van Relebogile Sekondêre Skool het sedert 9 Februarie nie skool bygewoon toe ’n sinkgat verskyn het nie. Dit het die leerder se veiligheid in gevaar gestel en daarom is die skool gesluit.

Die departement is bewus van die kwessie, en die DA het by verskeie geleenthede die LUR betrek.
“Hy het egter versuim om sy belofte na te kom om alternatiewe akkommodasie te verskaf om te verseker dat leer en onderrig by hierdie skool hervat word,” sê Ramulifho.
Die DA het vandeesweek ’n toesighoudende inspeksie by die skool gedoen, en die party was teleurgesteld om te ontdek dat die geïdentifiseerde alternatiewe lokaal nog nie gereed is nie en leerders het nie skool bygewoon nie.
“Ons is ingelig dat die ouers van tien leerders reeds aangedui het dat hulle hul kinders na ander provinsies gaan hervestig. Daarbenewens vrees die DA dat meer leerders die skool kan verlaat of sal uitval, wat bydra tot die meer as 100 000 uitvalsyfer vanaf 2022,” sê Ramulifho.
“Ons leerders het nou al drie maande lank waardevolle leer- en onderrigtyd gemis, wat veroorsaak het dat hulle agter raak met die kurrikulum, wat ook tydens die Covid-19-pandemie gebeur het.”
Die DA eis dat die LUR die proses moet bespoedig om al die nodige hulpbronne by die alternatiewe lokaal, soos ablusiegeriewe en elektrisiteit, te verskaf om te verseker dat skoolonderrig dringend hervat word.
“Ons sal ook aan die LUR skryf om vas te stel wat die vordering rakende die Geowetenskap-ingenieur se assessering van die skool is.”
Die DA vra die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie om hierdie aangeleentheid dringend te ondersoek.
“Dit is onaanvaarbaar dat ons leerders nou agter is met die 2023-skoolkurrikulum.”
LEES OOK: