Jacques Smalle, DA Limpopo-woordvoerder oor onderwys, het aan die LUR vir onderwys, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, geskryf om dringend mobiele klaskamers aan die Laerskool Bele in die Makhado-munisipaliteit te verskaf.
Die skool het ’n ernstige tekort aan klaskamers, en dit het leerders genoop om buite onderrig te word.
Laerskool Bele het net twee klaskamers maar het 316 leerders wat ingeskryf is van graad R tot graad 7. Daar is ook geen mobiele klaskamers beskikbaar om die situasie te verlig nie, en die tien onderwysers en drie onderwysassistente het geen kantoorspasie nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat terwyl ons Vryheidsdag gevier het, ons steeds leerders het wat buite onderrig word,” het Smalle gesê.
“Die departement het hierdie leerders en opvoeders in die steek gelaat deur nie ’n bevorderlike omgewing vir leer en onderrig by hierdie skool te bied nie.”
Die DA sal ook aan die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) skryf om in te gryp en by te staan.
“Mavhungu Lerule-Ramakhanya moet dringend mobiele klaskamers voorsien om te verseker dat leerders nie voortgaan om buite te leer nie, waar hul blootgestel word aan uiterste weerstoestande,” het Smalle gesê.