Solidariteit sal hom by ʼn openbare konsultasiesessie oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys (Bela-wetsontwerp), wat op Vrydag (5 Mei 2023) gehou word, verder en in persoon teen die voorgenome wetswysigings uitspreek. Openbare konsultasiesessies oor die Bela-wetsontwerp word tans in Gauteng gehou en Solidariteit is van voorneme om die geleentheid te gebruik om sy stem, en dié van sy lede, te laat hoor.
Volgens Solidariteit beoog die wysigingswetsontwerp in sy huidige formaat ʼn manier waarop die staat beheer oor funksionerende skole kan neem en sy kenmerkende stempel van wanorde op hulle kan afdruk. Solidariteit is verder van mening dat dit die regering se bedoeling is om Afrikaanse skole uit te faseer en om op dié manier weg te doen met moedertaalonderrig.
“Die staat is veronderstel om skole te bou; nie om sy magte te sentraliseer en die rol van die ouer in ons skole in te neem nie. Deur hierdie voorgestelde wetgewing teiken die regering juis funksionele skole wat suksesvol deur beheerliggame bestuur word,” meen Johnell van Vollenhoven, beleidsontleder verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI). “Afrikaanse skole se bestaansreg word bedreig, gehalte-onderrig word bedreig en ons regte as ouers om betrokke te wees by die bestuur van ons kinders se opvoeding , word bedreig. Ons kan dit nie toelaat nie. Die regering mag nie ons skole nasionaliseer nie. Ons sal daarom van elke geleentheid gebruik maak om teen die Bela-wetsontwerp te veg.”