Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het sowat R311 miljoen aan die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (NSFAS) terugbetaal in ontoegekende fondse wat bedoel was om tussen 2016 en 2021 aan studente uitbetaal te word.
Volgens die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) was die geld vir kwalifiserende studente wat óf van instelling verander het óf van die universiteit gederegistreer het.
“Die ontoegekende fondse was veronderstel om aan die einde van elke jaar deur NSFAS ingesamel te word van instellings van hoër onderwys. Die SOE se ondersoek het egter aan die lig gebring dat NSFAS versuim het om beheermaatreëls te ontwerp en te implementeer wat sal verseker dat daar ’n jaarlikse rekonsiliasie is tussen die fondse wat aan die instellings uitbetaal word en die befondsde lys van geregistreerde studente.
“Om dit reg te stel, het NSFAS onlangs ’n diensverskaffer aangestel om hulle te help om hierdie proses te behartig,” het die SOE gesê.
Die korrupsiebestrydingseenheid het ’n beroep op hoëronderwysinstellings gedoen om enige geld wat nie uitbetaal is nie aan studente terug te gee.
“Die betaling wat UJ gemaak het, bring die totale bedrag wat van hoëronderwysinstellings ontvang is op ongeveer R349,3 miljoen te staan sedert die aanvang van die NSFAS-ondersoek in September 2022.
“Die SOE moedig alle instellings van hoër onderwys aan om na vore te kom en ontoegekende fondse terug te betaal wat aan NSFAS verskuldig is,” het die SOE gesê.