’n Gautengse polisiebeampte is vir dronkbestuur in hegtenis geneem, nadat hy glo ’n motorfietsryer in ‘n beweerde dronktoestand omgery het. Die video het soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.
In die video kan die motorfietsryer op die grond gesien word wie die polisielid na bewering met sy voertuig getref het. In die video word die polisielid ook in ‘n ander polisievoertuig gelaai, nadat ander polisielede vir bystand opgedaag het.
Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het aan AfriNUUS gesê hulle het “met teleurstelling kennis geneem van die video wat op sosiale media versprei word, waar ’n (beweerde) dronk polisielid in sy uniform ’n burgerlike met sy privaat voertuig omgery het”.
Die voorval het luidens die polisieverklaring in Proclamation Hill, Pretoria-Wes, plaasgevind.
Volgens polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, is ’n saak van dronkbestuur geopen en is ’n interne saak ingevolge die dissiplinêre regulasies teen die lid aanhangig gemaak en sal hy die gevolge van sy dade in die gesig staar.