Beurtkrag het steeds ’n ernstige impak op Gauteng se ekonomie, wat daartoe gelei het dat ongeveer 302 893 werksgeleenthede in 2022 verlore gaan as gevolg van beurtkrag.
“Ons jeug is diegene wat die meeste van hierdie werksgeleenthede verloor, maar tog doen die Gautengse provinsiale regering nie genoeg om die impak van beurtkrag te verminder nie,” het Patrick Atkinson, DA Gautengse woordvoerder vir finansies, gesê.
Hierdie skokkende inligting is aan die DA onthul in ’n antwoord op die party se vrae wat in die Gautengse provinsiale wetgewer (GPL) ter tafel gelê is.
Volgens die Gautengse LUR vir Ekonomiese Ontwikkeling, Tasneem Motara, het die land ongeveer 3 212 ure se beurtkrag gedurende 2022 ervaar vergeleke met die 1 153 ure van beurtkrag wat gedurende 2021 ervaar is.
Die groot aantal werksgeleenthede wat verlore gegaan het, beklemtoon dat die voortdurende kragonderbrekings die provinsie se ekonomie benadeel.
Die hoër fases van beurtkrag maak dit moeilik vir klein besighede om handel te bedryf, veral dié wat op elektrisiteit staatmaak vir produksie.
Môre sal Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) die kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) vir die eerste kwartaal van 2023 bekend maak.
“Die DA verwag dat die werkloosheidsyfer in Gauteng sal toeneem,” het Atkinson bygevoeg.
Die DA sê dit sal voortgaan om druk op Premier Panyaza Lesufi uit te oefen om dringend ’n oplossing vir die huidige beurtkragkrisis in die provinsie te vind en om alle weë te ondersoek om ’n alternatiewe voorsiening van elektrisiteit te bekom.