ALS-paramedici het vanaand om 18:30 verskeie oproepe ontvang oor ’n transito-rooftog waar ’n geldwa in die suide van Durban opgeblaas is.
Verskeie mense is gewond, insluitend ’n polisielid, mense wat verby die toneel gery het en ’n veiligheidswag van die geldwa.
Paramedici moes ’n kilometer loop om op die toneel aan te kom, weens verkeer.
Een persoon in ’n taxi wat verbygery het gedurende die rooftog is talle kere geskiet, sowel as ’n wag van die geldwa. Een vrou wat verby die toneel gery het is dood weens ’n skietwond aan haar kop. ’n Ander passasier is in die been gewond. Daar word verder beweer dat ’n polisielid ook gewond is.
Die beseerdes is behandel en na nabygeleë hospitale vervoer vir verdere sorg.