Truth to Power: My Three Years Inside Eskom, ’n boek deur André de Ruyter wat uitgegee is deur Penguin Random House SA (PRHSA), het die onwettige verspreiding van die PDF-weergawe van die boek wat aanlyn gedeel word, veroordeel. Dit volg nadat die boek Sondag die rakke getref het en PDF-weergawes aanlyn versprei is.
PRHSA het in ’n verklaring gesê dat hy regstappe sal neem teen diegene wat die boek onwettig versprei het op platforms soos WhatsApp.
“Penguin Random House is ontsteld oor die onwettige verspreiding van ’n seerower-PDF van Truth to Power deur André de Ruyter, wat op WhatsApp Messenger versprei word. Die verspreiding van seerower-kopieë skend ons kopiereg sowel as dié van die outeur, en dit is onwettig ingevolge die Outeursregwet van 1976,” lui die verklaring.
“Ons wil dit aan die publiek duidelik maak dat die enigste manier om ’n e-boek wettig te bekom, is om dit by ’n e-boekhandelaar te koop of om dit by ’n gemagtigde e-boekbiblioteek te leen. Enige kopiëring of verspreiding van ’n seerower e-boek, of enige aanstuur van ’n skakel na die seerower e-boek, is onwettig. Ons sal regstappe neem teen individue wat roofkopieë sirkuleer, wat kriminele klagtes kan insluit sodra ons al die nodige inligting ingesamel het.”
André de Ruyter se reaksie toe hy van die seerower-e-boek verneem het: “Dit lyk of enigiets wat met Eskom verband hou, in Suid-Afrika geneig is om gesteel te word.”
“Ons bedank daardie individue wat standpunt ingeneem het om die roofkopie uit te vee en wat eerder die boek of die wettige e-boek gekoop het,” sluit die verklaring af.