’n Vyfjarige kind is glo die afgelope naweek in ’n skoolklaskamer in Cradock toegesluit. Daar word beweer dat die kind Vrydag as vermis aangemeld is en Maandag in die klaskamer gevind is. Hy is daarna na die hospitaal gehaas.
Majola Nkohli, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het gesê ’n saak van ’n vermiste kind is Vrydag by die polisie aangemeld.
“Daar word beweer dat die vyfjarige seuntjie nie van die skool af teruggekeer het nie en later dieselfde dag by die SAPD in Cradock as vermis aangemeld is,” het Nkohli gesê.
“Drie dae later is die polisie ingelig dat die kind later onder twyfelagtige omstandighede gevind is, wat tans deel van ’n ondersoek vorm. Daar word beweer dat die kind in ’n klaskamer toegesluit was. Hy is hospitaal toe geneem, en is in ’n stabiele toestand.”
Die skool se naam is aan AfriNUUS bekend.