Die DA in Msunduzi het ’n beroep op die LUR vir Gemeenskapsveiligheid en Skakeling, Sipho Hlomuka, en die LUR vir Onderwys, Mbali Frazer, gedoen om dringend veiligheidsmaatreëls te verseker, insluitend die oproep vir groter polisiesigbaarheid by die Taylors Halt-gebied in Pietermaritzburg na ’n vlaag skoolrooftogte waar vier skole vroeg verlede maand in een aand deur misdadigers geteiken is, en hul toerusting gesteel is.
AfriNUUS het vroeër ook berig dat Taylors Halt ook op die nuus was ná die moord op agt mense wat doodgebrand het.
“Dit het ’n hawe van misdaad geword en onveilig vir die kwesbares,” het DA-raadslid in Msunduzi, Zinhle Ngubo, gesê.
“In hierdie jongste voorval word berig dat toe die skoolhoofde die voorval by die Taylors Halt-polisiestasie as ’n ernstige misdaad aangemeld het, hulle meegedeel is die polisie nie beskikbaar was nie aangesien hulle die begrafnis van hul kollega bywoon,” het Ngubo gesê.
“Zuzulwazi Sekondêre Skool, bekend vir sy uitstekende matriekuitslae, het onveilig geword vir beide leerders en onderwysers, en die toekoms van ons kinders is op die spel. Die Departement van Onderwys moet dringend optree deur sekuriteitspersoneel te verskaf wat altyd veiligheid by hierdie skole sal verseker,” het Ngubo bygevoeg.
“Aan die einde van April is graad 12- en graad 11-leerders van Zuzulwazi Sekondêre Skool met ’n vuurwapen aangeval, en hul besittings is gevat. Nog ’n leerder is met ’n mes gesteek, en tot vandag toe het sy nie teruggekeer skool toe nie uit vrees vir haar lewe.”
“Die polisie het nie albei hierdie sake opgevolg nie,” het Ngubo gesê. “Waarom word daar nie na hierdie sake aandag gegee nie? Waar is die saaknommers?”