Annerien Mills (17), ‘n graad 11-leerder aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria, is Saterdag 20 Mei in haar slaap by haar huis oorlede.
Middelburg Observer berig dat volgens haar pa, John, het sy die middag ’n bietjie gaan lê. Haar tweelingbroer, Henré, wou haar gaan wakker maak, maar kon haar nie wakker kry nie.
“Sy was die oggend nog fine,” het hy gesê. Volgens hom het haar hart gaan staan.
Die skool het ‘n verklaring op Facebook geplaas wat lui: “Ons betreur vandag die afsterwe van ‘n
geliefde graad 11-leerder, Annerien Mills. Annerien, jou plekkie is leeg, jou fluit nou stil, maar jou nagedagtenis leef voort in elke blou Affiehart.
“Mag jy in vrede rys. Ons betuig graag ons innige simpatie met haar ouers, John en Anneke, haar ouboet Joubert, tweelingboetie Henré, familie en maats. Mag ons Hemelse Vader elkeen wat seer het vertroos met Sy genade en vrede.”

Marna Jordaan, skoolhoof van Affies, het op Facebook haar medelye gedeel. “Sy was ‘n Affie in murg en been,” skryf Jordaan. “[Sy] het Donderdag nog met groot opgewondenheid saam na Bloemfontein gereis. Trots geklee in haar blou Affie-hoodie.”
“Die Covid-19-pandemie het in 2020 tydens haar graad 8 jaar toegeslaan. Die groep kinders is “beroof” van soveel geleenthede by die skool waarna hulle jare uitgesien het. Die geleentheid om dus uiteindelik as skool na Bloemfontein te reis was des te meer ‘n onvergeetlike uitstappie.”
Vrydagaand was sy deel van die Affie-orkes wat soveel harte aangeraak het toe hulle ten spyte van beurtkrag in die pikdonker aanhou speel het. ‘n Roerende oomblik in tyd wat diegene teenwoordig diep geraak het.
“Hoe dankbaar is ek nou vir Kode Blou, die graad 11-veldskool en die orkes is Woensdag as beste in die stad aangewys. Dat Annerien dit alles kon mee maak,” skryf Jordaan.
“Die wete dat sy ‘n ” gelukkige” Affie was bied troos. Mag die groot Trooster deur Sy genade ons deur hierdie tyd versterk. Ons is hartseer,” voeg Jordaan by.
Haar roudiens vind Woensdag om 10:00 by Tygerpoort se NG-Kerk plaas.
Annerien word oorleef deur haar ouers, John en Anneke en broers Joubert en Henré.