Minister in die Presidensie wat verantwoordelik is vir Elektrisiteit, dr Kgosientsho Ramokgopa, sal na vandag die Kusile-kragstasie in Mpumalanga besoek.
Minstens drie van die kragstasie se eenhede is tans vanlyn weens die ineenstorting van ’n voerpyp na die skoorsteen wat die drie eenhede buite werking gestel het wat gedurende Oktober verlede jaar plaasgevind het – wat Eskom minstens 2400 MW se kapasiteit gekos het.
Die drie eenhede word later vanjaar weer aanlyn verwag.
“Tydens die besoek sal die Minister ’n statusverslag ontvang oor die maatreëls wat getref is om die vier eenhede by Kusile teen Desember aanlyn te bring. Dit sal gevolg word deur ’n inspeksie van die konstruksieprojek wat tans by Kusile plaasvind.
“Die regering het stappe geneem om die prestasie van Eskom se bestaande steenkoolvloot te verbeter as deel van ’n besluit oor beurtkrag. Die besoek aan Kusile is deel van die minister se pogings om te verseker dat die stasie op koers is om die broodnodige megawatt-eenhede te produseer,” lui ’n mediaverklaring van die staatskommunikasie- en inligtingstelsel (GCIS).
Intussen het Eskom aangekondig dat hy verwag dat die land tot verdere kennisgewing tussen fase 3 en 5 beurtkrag sal wissel.
Fase 3 sal daagliks tussen 05:00 en 16:00 geïmplementeer word, gevolg deur fase 5 van 16:00 tot 05:00.
Onderbrekings by kragstasies is tans op 16 486 MW se opwekkingskapasiteit met sowat 3 817MW opwekkingskapasiteit buite werking as gevolg van beplande instandhouding.
“In die afgelope 24 uur is ’n opwekkingseenheid by die Duvha-kagstasie uit diens geneem weens onklaarraking. Verder dra die vertraging in die terugkeer van eenhede by Arnot, Camden, Kendal, Tutuka en twee opwekkingseenhede by die Hendrina-kragstasies steeds by tot die huidige kapasiteitsbeperkings. Die span werk onverpoosd daaraan om te verseker dat opwekkingseenhede so gou as moontlik weer in diens geneem word.
“Ons bedank dié Suid-Afrikaners wat gehoor gee aan die oproep om elektrisiteit spaarsamig en doeltreffend te gebruik, insluitend die afskakeling van geisers van 17:00 tot 21:00, om te help om die druk op die kragstelsel te verlig en hoër fases van beurtkrag te vermy,” het Eskom gesê.
– SAnews.gov.za