Deur Estian Mentz en Heléne Meissenheimer (Kerkbode)
Waar ’n wil is, is ’n weg. Die 92-jarige Jannie Roodt van Koster wou so graag iets doen vir droogtehulp dat hy in April in ses dae 504 keer met sy elektroniese rolstoel gery het rondom die Gereformeerde kerkgebou op sy dorp en so meer as R30 000 vir die projek ingesamel.
Dit kom neer op presies 166,6 km – die lengte van die RSG Red ’n Plaas Camino waaraan hy so graag wou deelneem, maar sy rolstoel sou nie hierdie Noord-Kaapse grondpaaie kon hanteer nie. Toe besluit hy om ’n virtuele saamry aan te pak … maar ek loop die storie nou vooruit.
Toe ons hom bel om sy storie te hoor begin hy ver terug. Hy en sy vrou Drienie het ’n tuisnywerheid op Koster in die Noordwes. Die afgelope paar jaar voel hy of die Here ’n passie in hom aan die brand gesteek het vir die mense van die Noord-Kaap wat so swaar kry weens die droogte. Al sy planne om mense in sy omgewing op te lei om lekkernye te maak wat vir fondse verkoop kon word wou nie uitwerk nie.