Jackie Mathabathe, ActionSA se Tshwane-streeksvoorsitter, het gesê die politieke party het klagtes teen die Stad Tshwane en sy voormalige uitvoerende burgemeester, Randall Williams, by die Openbare Beskermer (OB) en Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ingedien vir hul “versuim om op te tree t.o.v. die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg (RWTP) wat moontlik tot die huidige Cholera-uitbraak gelei het.”
“Ons besef dat dit al byna twee dekades lank ’n aanhoudende kwessie is, en ons sal nie verbaas wees as hierdie hoofstuk 9-ondersoeke aan die lig bring dat ander stadsburgemeesters en stadsamptenare aandadig was aan die skerp afname in watertoegang en -gehalte in Hammanskraal en sy omgewing nie,” het Mathabathe gesê.
“As ’n verantwoordelike koalisievennoot, staan ActionSA gereed om saam met Cilliers Brink, uitvoerende burgemeester, te werk om te help met die versagting van die krisis wat deels deur sy voorganger(s) geskep is om te verseker dat hierdie uitbraak bedwing word,” het Mathabathe bygevoeg.
Dit is ActionSA se mening dat die huidige Cholera-uitbraak, wat tot die dood van 15 mense in Hammanskraal gelei het, moontlik direk verband hou met die feit dat die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg wanfunksioneel is wat beide Williams en die Stad Tshwane versuim het om aan te spreek.
“As Williams en die stad nie die kansellasie van die onreëlmatige RWTP-tender vertraag en die implementering van ’n ondersoekverslag vertraag het nie, kon die huidige Cholera-uitbraak in Hammanskraal in alle waarskynlikheid vermy gewees het,” het Mathabathe gesê.
“Na aanleiding van die kontrak se kansellasie, het ActionSA versoek dat die kontrak ondersoek word, en Williams het die indiening van die verslag aan die raad vir drie maande uitgestel ondanks herhaalde versoeke van ActionSA om die verslag ter tafel te lê sodat ons Hammanskraal se waterkwessies sinvol kan begin hanteer,” het Mathabathe bygevoeg. “ActionSA praat al lank oor die Hammanskraal-waterkwessie, nadat hy sy eie onafhanklike kommissie van ondersoek na watergehalte in 2021 ingestel het.”
Onder ander inisiatiewe het ActionSA hom beywer vir:
- Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) het ingestem om korrupsie in die Rooiwal-afvalwatersuiweringsaanleg te ondersoek nadat ActionSA sy verslag oor die aangeleentheid oorhandig het.
- Die indiening van ’n mosie vir die stad om die tenderprosesse betrokke by Hammanskraal te ondersoek.
- Beywering vir die stadsraad om te verseker dat die Stadsbestuurder die aanbevelings van die stadsondersoekverslag implementeer en dat Munisipale Openbare Rekeninge Komitees (MPAC) die implementering van die verslag monitor.
“Williams het trouens nie daarin geslaag om ActionSA se bekommernisse oor die Hammanskraal-waterkrisis aan te spreek nie en het selfs die indiening van ondersoeke daarna vertraag – wat grootliks daartoe bygedra het dat ActionSA versoek het vir sy verwydering aan die stuur van die stad.”
ActionSA hoop dat die openbare beskermer en SAMRK hul bekommernisse in hierdie verband spoedig sal ondersoek om te verseker dat die gemeenskap van Hammanskraal “die geregtigheid kry wat hulle verdien nadat hulle herhaaldelik in die steek gelaat is.”