Minister van verdediging, Thandi Modise, het Dinsdag in die parlement gesê niks is op die Russiese vaartuig Lady R gelaai in Desember 2022 nie.
Dit volg nadat LP’s antwoorde geëis het oor beskuldigings dat Suid-Afrika in Desember laasjaar wapens aan boord van die Lady R gelaai het.
Modise het gesê die Russiese skip het Desember in Simonstad vasgemeer om ‘materiaal te hanteer’ wat in 2018 bestel is.
“Ek sal herhaal wat ek gesê het, ons het ‘f*kk*l’ op daardie skip gesit nie. Ek het doelbewus gevra om die woord ‘f*kk*l’ te gebruik omdat daar niks was nie,” het Modise gesê.
Sarel Marais van die Demokratiese Alliansie (DA) het gesê dit kan ernstige implikasies vir die land inhou.
“Hoekom [kan Suid-Afrika] nie deursigtig wees en op rekord gaan nie? Hoe langer jy stilbly, hoe groter is die skade aan ons internasionale beeld,” het Marais gesê.
Maar Modise het ontken dat enige wapens op die vaartuig gelaai is en gesê die land se verhouding met Rusland het dekades teruggeloop en gesê sy is tevrede dat Ramaphosa ’n ondersoek na die saak van stapel gestuur het.
“Die verhouding tussen die Russiese weermag en die Suid-Afrikaanse weermag strek oor ’n lang tyd, voor die verhouding en bestelling van wat dit ook al op daardie skip was wat afgelewer is en die Lady R-skouspel.”
‘n Hooggeplaaste regeringsbron het aan die Sunday Times gesê die vraghouers wat by die Simonstad-vlootbasis vanaf die Lady R afgelaai is, is onder andere masjiengewere wat geskik is om op vliegtuie te monteer.