’n Graad 4-leerder van Laerskool Booysens is dood en twee ander leerders is in die hospitaal opgeneem ná ’n ongeluk Woensdag in die noorde van Pretoria.
Die polisie het gesê die ongeluk het Woensdagoggend op die R566-pad naby Nkwe Estate gebeur.
Die Gautengse LUR vir onderwys, Matome Chiloane, sê die departement is hartseer oor die voorval waarin 24 leerders na bewering in ’n motorongeluk betrokke was wat die lewe van ’n graad 4, 11-jarige seunsleerder, van Laerskool Booysens, geëis het.
“Berigte lui dat die motorongeluk na bewering in Rosslyn, Tshwane, in die oggend plaasgevind het terwyl leerders van Mabopane op pad skool toe was met behulp van ’n skoolbus,” het Chiloane gesê.
“Die ongeluk het 2 leerders in die hospitaal en in die intensiewe sorgeenheid (ICU) by die Dr George Mukhari Akademiese Hospitaal gelaat, terwyl ongeveer 21 leerders ook na verskillende hospitale gehaas is en later ontslaan is nadat hulle die nodige mediese behandeling ontvang het,” het Chiloane bygevoeg.
Psigo-Sosiale Ondersteuning is vandag verskaf aan almal wat deur die voorval by die skool geraak is, en dieselfde is uitgebrei na die bedroefde familie van die oorlede leerder.
“Ons is verpletter deur die voorkoms van hierdie ongelukkige voorval en dra ons innige meegevoel oor aan die bedroefde familie en skoolgemeenskap in die algemeen. As die departement vra ons te alle tye veiligheid en waaksaamheid op ons paaie,” het LUR Chiloane gesê.
Lindiwe Mabasa, woordvoerder van die Akasia-polisie, het gesê toe die polisie op die toneel aankom, het nooddienste reeds die slagoffers na die verskeie hospitale geneem vir behandeling.
Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en nalatige bestuur, en ’n verdere klag van strafbare manslag.