Die waarnemende minister van gesondheid, dr Aaron Motsoaledi, adjunkminister van gesondheid, dr Sibongiseni Dhlomo, Gautengse LUR vir gesondheid en welstand, Nomantu Nkomo-Ralehoko, sal om Donderdagaand die Jubilee-streekhospitaal in Hammanskraal besoek. 29 laboratorium-bevestigde gevalle is in Hammanskraal aangemeld.
Die afvaardiging sal vergesel word deur die kundiges van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios), Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en senior amptenare van beide Nasionale en Provinsiale Gesondheidsdepartemente.
Dit volg ná ’n toestroming van pasiënte na die hospitaal wat simptome van Cholera toon. Dit sluit aanhoudende waterige diarree, braking, dors en spierkrampe in. Sonder behandeling kan die persoon binne ure sterf.
Die oorsaak van Cholera in die omgewing is nog onbekend. Senzo Mchunu, minister van water en sanitasie, sê egter swak infrastruktuur en waterhulpbronbestuur is die skuld vir die cholera-uitbraak.
Die nasionale departement van gesondheid het bevestig dat die aantal mense wat in Hammanskraal weens Cholera gesterf het, tot 21 gestyf het. Dit terwyl een persoon in die Vrystaat weens Cholera dood is.
“Hierdie dringende besoek sal die politieke sfere in staat stel om die doeltreffendheid van die huidige regering se ingrypings te monitor om die verspreiding van Cholera-siekte te bekamp en lewens te red, ten einde verdere ingrypings te oorweeg,” sê Foster Mohale, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid.
Die besoek vind plaas op Donderdag, 25 Mei 2023, vanaf 17:30 tot laat by die Jubilee-streekhospitaal in Hammanskraal.
‘n Regstreekse skakel sal hier gedeel word sodra die media toegespreek word.