Terwyl die situasie by Eskom se kragnetwerk ernstig is en met ’n oomblik se kennisgewing kan verander, vra die Stad Kaapstad die publiek om eers die Stad se amptelike kanale vir beurtkrag-opdaterings na te gaan voordat kits- en sosialemediaboodskappe aangestuur word wat nie waar is nie, of nie ontvang is uit betroubare bronne nie.
Verskeie WhatsApp- en sosiale media-boodskappe doen die ronde en waarsku van ’n naderende skuif na fase 8-beurtkrag Donderdagaand.
“Dit is fopnuus – ten minste op hierdie stadium. Terwyl die Eskom-situasie ernstig is en die skuif na hoër fases van beurtkrag een of ander tyd ’n werklike moontlikheid is, sal dit deur die Stad Kaapstad op sy amptelike kanale op sosiale media en op sy webwerf gekommunikeer word. Dit sal gedoen word ná ’n verklaring deur Eskom se netwerkbeheer aan die Stad se netwerkbeheer.
Jy kan ook AfriNUUS se Telegram-blad, webtuiste of Facebookblad dophou vir amptelike aankondigings van veranderinge in beurtkragfases wat ons van Eskom ontvang.
“Diegene wat hierdie boodskappe skep wat nie van amptelike bronne afkomstig is nie, en dit selfs net sonder om te dink deurstuur, veroorsaak paniek en chaos, vrees en wanorde. Die skeppers van hierdie boodskappe floreer hierop. Ons doen ’n beroep op ons inwoners om nie die slagoffer van fopnuus te word nie en om Eskom en die Stad se amptelike bronne vir inligting na te gaan voordat hulle hierdie dikwels anoniem geskrewe boodskappe aanstuur. Soos altyd, om te help oor die spitstyd in die aande, vra ons kragverbruikers om gebruik te verminder waar moontlik,” het die Stad Kaapstad se Burgemeesterskomiteelid vir Energie, raadslid Beverley van Reenen, gesê.