Jan Palm, VF Plus-raadslid in die Hantam-plaaslike munisipaliteit, sê die Hantam-plaaslike munisipaliteit (wat Calvinia, Loeriesfontein, Middelpos en Nieuwoudtville insluit) rem die vervoer van pasiënte met lugambulanse.
“Die vliegveld van die Hantam, geleë net buite Calvinia, se landingsbaan is van só ʼn aard dat dit nie aan die Burgerlike Lugvaart-owerheid (BLO) se veiligheidsmaatreëls voldoen nie,” sê Palm.
Die naaste dorpe wat hoë sorg aan pasiënte van die Hantam kan bied is Upington en Kaapstad.
Calvinia is 416km van Upington geleë en 381km vanaf Kaapstad.
Die VF Plus het in sy ondersoek na die geskiktheid van die vliegveld om noodvlugte te akkommodeer, met ʼn private vlieënier, mnr. Dirk van Rooyen, saamgewerk.
Volgens Van Rooyen is die blad so swak en vol gate dat hy self al skade gely het.
Die beligting van die baan is ook onvoldoende vir nagtelike gebruik.

Mnr. Fabian Flores, bestuurder van die Abraham Esau-hospitaal op Calvinia, het ook aangedui dat sekere mediese dienste slegs gelewer kan word indien die vliegveld herstel word.
Dit geld veral vir die deel van die gemeenskap wat nie oor ʼn mediese fonds beskik nie.
“Pasiënte wat noodsaaklike intensiewe sorg benodig, se kans op oorlewing hang daarvan af of hulle spoedig by die regte hospitale opgeneem word,” sê Palm. “Daarvoor is hulle van die staat se ambulansvliegtuie afhanklik.”
Die VF Plus het ʼn skrywe gerig aan die burgemeester, me. Lynette Olyn, om ’n formele ondersoek te doen na noodsaaklike verbeterings om die vliegveld aan die BLO se vereistes te laat voldoen.
“Staatspasiënte in die Hantam verdien beter mediese sorg as wat tans beskikbaar is,” meen Palm.