’n Rwandese voortvlugtige wat gesoek word in verband met die Rwandese volksmoord in 1994, is deur die Suid-Afrikaanse Operasionele Taakspan (OTT) in die Paarl in die Wes-Kaap in hegtenis geneem na aanleiding van ’n Rooi Kennisgewing deur Interpol.
Sy naam is bevestig as Fulgence Kayishema (Fuli-jance Kayish-ema). 'n Beloning van $5 miljoen is aangebied vir sy inhegtenisname.
Hy het onder ’n valse identiteit op ’n druiweplaas gewoon, en was sedert 2002 gesoek vir volksmoord, sameswering om volksmoord te pleeg en misdade teen die mensdom nadat hy na bewering ’n beduidende rol as Polisie-inspekteur in Rwanda gespeel het in die beplanning en uitvoering van moorde waarin meer as 2 000 man, vroue en kinders in 1994 in 'n Katolieke Kerk doodgebrand is.
Luidens die akte van beskuldiging het Fulgence Kayishema op 15 April 1994 deelgeneem aan die beplanning en uitvoering van 'n bloedbad van vlugtelinge wat by die Nyange-kerk in Kivumu, Kibuye-prefektuur, weggekruip het. Daar word beweer Kayishema en ander het probeer om die kerk af te brand met die vlugtelinge binne. Toe dit misluk, het hulle dit toegemaak en almal wat daar weggekruip het, begrawe en doodgemaak.
“Die 61-jarige Rwandese voortvlugtige is gearresteer na aanleiding van die Rooi Kennisgewing van Interpol wat uitgereik is deur die VN se Internasionale Residuele Meganisme vir Kriminele Tribunale (IRMCT). Hy is deur IRMCT gesoek vir volksmoord, sameswering om volksmoord te pleeg en misdade teen die mensdom in Rwanda in 1994,” het brigadier Thandi Mbambo, Valke-woordvoerder, gesê.
“Ten tyde van sy inhegtenisneming op die druiweplaas in die Paarl, Wes-Kaap, op 24 Mei 2023, het die Rwandese voortvlugtige onder ’n valse identiteit (Donatien Nibashumba) geleef. Die ondersoek wat deur OTT gedoen is, het gelei tot die inhegtenisneming van die voortvlugtige in die Paarl,” het Mbambo bygevoeg.
Die voortvlugtige sal op Donderdag 26 Mei 2023 voor die hof verskyn vir die oortreding van immigrasiewette en die Rooi Kennisgewing van Interpol.
Dit het gekom nadat die OTT die voortvlugtige se verblyfplek en foto’s van die IRMCT ontvang het wat gelei het tot die identifikasie van die voortvlugtige wat sedert 2002 gesoek is.
Volgens die inhegtenisnemingsbevel wat uitgereik is en IRMCT-aanklag, was die voortvlugtige die polisie-inspekteur in Rwanda wat na bewering ’n beduidende rol gespeel het in die beplanning en uitvoering van volksmoord waar meer as 2 000 mense in 1994 vermoor is.
Die Nasionale Hoof van die Valke het die span geloof vir hul uitstekende werk en hy het gesê dat die inhegtenisneming van die voortvlugtende die krag en doeltreffendheid van internasionale samewerking tussen polisie wêreldwyd in die verkryging van inligting met betrekking tot die identifisering, ligging en aanhouding van voortvlugtendes toon. Dit bewys dat hoe lank dit ook al neem, die wetstoepassingsgemeenskap sal aanhou soek na voortvlugtiges totdat hulle opgespoor en gearresteer word.
“Hierdie operasie is ’n eer aan wetstoepassingsbeamptes en -agentskappe in Suid-Afrika en Rwanda.”
Die voortvlugtige sal in aanhouding bly om in die landdroshof in Kaapstad te verskyn vir sy eerste verskyning op Vrydag 26 Mei 2023 tot die beskikking van Suid-Afrikaanse geregtelike owerhede hangende sy uitlewering aan Rwanda.