’n 27-jarige man het Woensdagmiddag Reaksie-eenheid Suid-Afrika (RUSA) gekontak en bystand versoek om gered te word uit ’n huis waarin hy na bewering gevange gehou is.
Reaksiebeamptes het om 17:34 na ’n gebied in Parkgate, KwaZulu-Natal, gehaas waar hy na bewering gevange gehou is.
“Dit volg nadat hulle kontak gemaak het met die oproeper wat verklaar het dat hy ontvoer is en teen sy wil aangehou word. Hy het verder gesê die mans wat hom ontvoer het, het buite die huis gestaan en was onbewus daarvan dat hy sy selfoon in sy besit het. Hy het ook beweer dat hulle swaar gewapen was. Die beller het sy ligging per WhatsApp aan ’n beampte aangestuur,” lui ’n verklaring deur RUSA.
“Reaksiebeamptes het na die plek gegaan en ontdek dat die huis waarheen die ligging hulle gelei het, onbewoon was. RUSA-lede het ’n onderhoud gevoer met die eienaar van ’n nabygeleë snoepwinkel wat bevestig het dat sy die oproeper ken en dat hy ’n paar deure verder woon.”
Beamptes het na sy woning gegaan en met sy familie gepraat. Hulle het verduidelik dat die man ’n psigiatriese pasiënt is. Hy het sy woning verlaat voor die aankoms van reaksiebeamptes, maar het later teruggekeer. Hy is verlede week in ’n plaaslike hospitaal opgeneem, maar het ontsnap nadat hy by ’n venster op die derde verdieping uitgespring het.
Sy familie het reaksiebeamptes in kennis gestel dat hulle reëlings sal tref om hom weer by ’n psigiatriese fasiliteit neem.