Die kabinet het tydens sy vergadering vandeesweek bevestig dat betrekkinge tussen Suid-Afrika en die VSA ‘hartlik, sterk en wedersyds voordelig’ bly.
Dit volg op ’n vergadering tussen die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking (Dirco), Dr Naledi Pandor, en die Amerikaanse ambassadeur in Suid-Afrika, Reuben E Brigety, oor sy uitlatings wat beweer dat Suid-Afrika wapens aan Rusland verskaf het.
“Die Kabinet het herhaal dat gevestigde diplomatieke kanale beskikbaar is vir alle nasies, insluitend die VSA, om kwessies te opper soos dit in die bestuur van die bilaterale betrekkinge ontstaan,” het die Kabinet Donderdag in ’n verklaring gesê.
Dit verwelkom verder die aankondiging deur president Cyril Ramaphosa van die instelling van ’n onafhanklike ondersoek om die bewerings van die verskaffing van wapens van Suid-Afrika aan Rusland te ondersoek.
Besonderhede van die ondersoek sal mettertyd bekend gemaak word.
– SAnew.gov.za
Foto: Wit Huis / Flickr