Isaac Mahamba, woordvoerder van die Tshwane-metropolisiedepartement (TMPD), het gesê die Tshwane-metropolisie het Donderdag ’n foon van een van die verdagtes agter ’n reeks rooftogte en OTM-bomaanvalle deursoek wat gewys het hoe dieselfde verdagtes na bewering ’n kind tydens ’n huisroof verlede week doodgewurg het.
Ander video’s was van die geld waarmee hulle gespog het nadat hulle rooftogte en OTM-bomaanvalle gepleeg het.
Mahamba het gesê lede van die metro se taktiese reaksie-eenheid het Woensdag hul gereelde pligte uitgevoer en gepatrolleer toe hulle ’n verdagte Mercedes-Benz op die R55-pad langs Maundestraat in Pretoria opgemerk het.
“Die voertuig is gestop en die bestuurder het vinnig uitgeklim om die beamptes te nader. Die beamptes het toe versoek om sy rybewys te sien,” het Mahamba gesê.
“Hy het genoem dat hy sy rybewys in ’n ander voertuig gelos het en probeer het om omkoopgeld aan die beamptes te bied, maar die beamptes het geweier en gevra om ’n inspeksie op sy voertuig te doen.”
Toe een van die metropolisiebeamptes die voertuig nader, het hy twee verdagte manlike passasiers met vuurwapens opgemerk.
Die beampte het vinnig gereageer en sy vuurwapen uitgeruk. Die manlike passasiers het uit die voertuig geklim en begin skiet. Die beampte het teruggeskiet en die twee verdagtes beseer.
“Een passasier van ’n minibustaxi wat verbygery het, is ook in die kruisvuur beseer. Die TMPD-lede is nie beseer nie,” het Mahamba gesê.
Mahamba sê die bestuurder van die Mercedes-Benz het weggery terwyl een beseerde verdagte die bosse ingehardloop het. Nog ’n verdagte wat ernstig beseer is, is onder polisiebewaking hospitaal toe geneem.
“Met die inhegtenisneming van die verdagte is ontdek dat hierdie verdagtes berugte misdadigers is wat gesoek word vir meer as 15 sake van misdade, soos onder meer moord, OTM-bomaanvalle, aanranding en huisrooftogte,” het hy gesê.
“Op die selfoon van die verdagte is ’n grusame video gesien van die misdaad wat hulle die afgelope week gepleeg het waar hulle besig was om ’n huis te beroof en ’n kind dood te wurg.”
“Ander video’s was van die geld waarmee hulle gespog het nadat hulle rooftogte en OTM-bomaanvalle gepleeg het,” het Mahamba gesê.
Hy het gesê die polisie het ’n ondersoek van stapel gestuur.
“Twee verdagtes is steeds op vrye voet en ons doen ’n beroep op lede van die publiek wat enige inligting oor hierdie misdadigers het om na vore te kom en die polisie by te staan deur hul naaste polisiestasie of die TMPD te kontak by 012 358 7095/7096,” het Mahamba gesê.