Kolonel Andrè Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê misdaadtoneelkundiges fynkam steeds die toneel in Constantia waar die liggame van vier mense Donderdagoggend om 08:20 ontdek is.
“Die liggame van twee vroue en twee mans wat na raming tussen 40 en 50 jaar oud is, is met skietwonde ontdek,” het Traut gesê.
Bulgaarse mediahuis, Sofia News Agency, het bevestig dat een van die slagoffers Krasimir Nikolaev Kamenov was, wat deur die Bulgaarse owerhede gesoek is op aanklagte van dreigemente tot moord, afpersing en moord.
Hy het ook verskyn op ’n rooi Interpol-kennisgewing wat laasjaar uitgereik is.
Die ander slagoffers was sy vrou, Gergana, sy kinderoppasser, Slawa Sergiewa, en sy lyfwag.
Krasimir Kamenov is in Bulgarye deur die staatsaanklaer daarvan beskuldig vir die beweerde moord op Lyubomir Ivanov, ’n voormalige werknemer van die Ministerie van Binnelandse Sake, wat aan die begin van 2022 in Sofia, die hoofstad, doodgeskiet is. Die aanklaer se kantoor beskuldig hom ook van aandadigheid aan sameswering deur ander individue vir die diskreditering van hooggeplaaste landdroste en polisiebeamptes.
Die polisie is vanoggend na die misdaadtoneel ontbied nadat die ontdekking gemaak is.
“Die motief vir die veelvuldige moorde moet nog vasgestel word, met speurders wat hard aan die werk is op soek na leidrade,” sê Traut. “Speurders verbonde aan die polisie se ernstige en gewelddadige misdaadonderspan het ’n ondersoek na die moorde van stapel gestuur.”
Die Bulgaarse ambassade in Suid-Afrika het die moord op vier mense in Kaapstad, wat glo Bulgaarse burgers is, bevestig.
“Die ambassade van Bulgarye in Suid-Afrika lig sy burgers in oor die moord op vier mense in Kaapstad, wat glo Bulgaarse burgers is.
“Die Ambassade van Bulgarye in Suid-Afrika soek inligting op ’n amptelike wyse van die owerhede in die land en sal dit aan die bevoegde owerhede in Bulgarye stuur sodra dit ontvang word.
“Enige inligting wat van ons ambassade in Suid-Afrika ontvang word, word na die Ministerie van Binnelandse Sake onder jurisdiksie oorgedra.”