Lede van Reaksie-eenheid Suid-Afrika (Rusa) soek tans na ’n man wat ’n vrou op Gopalall Hurbansweg in Tongaat, KwaZulu-Natal, doodgeskiet het. Dit kom nadat ’n werknemer van die departement van binnelandse sake 6 skietwonde aan haar lyf en een skietwond aan haar kop opgedoen het, terwyl sy bestuur het.
“Reaksiebeamptes is na die toneel gestuur nadat verskeie ooggetuies berig het dat skote op ’n grys Volkswagen Polo afgevuur is. Met hul aankoms het Rusa-lede paramedici van ’n private ambulansdiens ontdek wat die bestuurder van die voertuig ondersoek het. Die werknemer van die departement van binnelandse sake het ongeveer 6 skietwonde aan haar lyf en een skietwond aan haar kop opgedoen. Sy is op die toneel dood verklaar,” lui ’n verklaring deur Rusa.
“Volgens ooggetuies het ’n manlike passasier uit sy voertuig geklim terwyl dit in beweging was. Die man het ’n vuurwapen uitgeruk en verskeie skote op die vrou afgevuur. Haar voertuig het van die pad afgery en teen konstruksieversperrings vasgery. Die verdagte het daarna te voet gevlug.”
Die motief vir die moord is nie in dié stadium bekend nie.