Die polisie in Mecklenburg buite Sekhukhune het ’n massiewe soektog van stapel gestuur na verdagtes wat na bewering gisteraand, Donderdag 25 Mei 2023, ’n man met klippe doodgegooi het wat vermoedelik by onwettige mynbou by die Maatadi-dorpie betrokke was.
Die polisie is om 20:00 na die toneel ontbied. Met hul aankoms het hulle ’n onbekende man op die berg gevind met sigbare beserings regdeur sy liggaam. Hy is op die toneel dood verklaar deur die mediese nooddienspersoneel.
“Voorlopige ondersoeke toon dat die slagoffer deur onbekende verdagtes met klippe doodgegooi is. Die oorledene se identiteit is nog nie bekend nie, maar ondersoeke het aan die lig gebring dat hy van die KwaZulu-Natal-provinsie kom,” sê kolonel Malesela Ledwaba, polisiewoordvoerder in Limpopo.
“Die motief vir die moord is onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie.”
Die provinsiale polisiekommissaris in Limpopo, luitenant-generaal Thembi Hadebe, het hierdie barbaarse aanval ten sterkste veroordeel en het ’n onmiddellike ondersoek na die saak gelas.
Die polisie het ’n saak van moord geopen en doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor die voorval om vorentoe te kom en te help met die arrestasie van die verdagtes deur luitenant-kolonel Phillip Mohlala by 082 414 3070 of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 of die naaste polisiestasie te bel.