Solidariteit het vandag aan minstens 2 000 van Suid-Afrika se groot maatskappye geskryf en hulle gevra om protes teen die regering se nuutste raswette aan te teken.
Maatskappye word gevra om kollektief te weier om die wet te implementeer, om politieke druk op die regering uit te oefen en om tot die regstryd toe te tree.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, skryf dat dit nie nou tyd vir klakkelose gehoorsaamheid is nie, maar vir positiewe protes. Dit sal goed wees vir almal in Suid-Afrika.
Volgens die skrywe maak maatskappye wat hierdie nuwe onreg gehoorsaam hulle nie net mede-aandadig aan die onreg nie, maar ook aan die groeiende krisis in die land. Die brief wys ook daarop dat maatskappye nie die reg het om die onreg te gehoorsaam nie.
Die skrywe wys ook daarop dat die nuwe wet werkgewers se reg om besigheid te doen en werknemers se reg om te werk van hulle ontneem.
Daarom, skryf Hermann, berus die onus om die wet en regulasies te stop, grootliks op die ondernemings.
Hermann stel dit verder dat hierdie regulasies van Suid-Afrika die mees rasgereguleerde land ter wêreld maak. Dié regulasies plaas werkgewers in ʼn onmoontlike posisie. Dit is onimplementeerbaar, maar dit gaan die wet word.
Die brief lees voorts: “Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging skryf in ʼn rubriek dat nuwe rassewette nie in isolasie gesien moet word van die wyer rampe wat die regering oor die land bring nie. Dit is dieselfde ideologie wat tot die verval van die land, die straffelose korrupsie, die misdaadkrisis en die ekonomiese insinking gelei het. Maatskappye wat hierdie rassewette ondersteun, moenie kla oor die kragkrisis, munisipale verval of oor die gevaar dat die Amerikaners ons uit die Agoa-ooreenkoms skop nie. Dit is net ʼn ander stuk van dieselfde legkaart.”
Die nuwe raswet en -regulasies verleen aan die minister van indiensneming en arbeid die reg om sektore te identifiseer en rassekwotas vir die sektore te bepaal wat op werkgewers afgedwing kan word.
Die minister het 60 bladsye se regulasies gepubliseer wat in besonderhede aan werkgewers voorskryf hoe hul rassegetalle moet lyk.
“Om wanbalanse reg te stel of meer werk te skep is ʼn regmatige doel, maar die fokus is nie op regstelling of werk nie, maar op ras – al kos dit werk,” skryf Hermann.
Hier is die brief aan werkgewers, en hier is die verslag se bestuursopsomming.