Minstens 25 organisasies oor verskeie tradisionele grense heen kom Dinsdag, 6 Junie in Centurion bymekaar om protes teen die nuwe raswet (die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming) van die regering en sy regulasies te beplan en dit dan te belyn. Talle van Suid-Afrika se bekendste meningsvormers gaan ook hierdie belangrike geleentheid bywoon.
Die organisasies sluit sakelui, politieke partye, vakbonde, landbou-organisasies en talle burgerlike organisasies in. Verskeie van die organisasies beplan litigasie teen die wet en baie van die organisasies gaan ook kommentaar teen die regulasies indien.
Die volledige implikasie van die regulasies gaan aan die hand van ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) bespreek word.
ʼn Oop gesprek sal daarna volg waartydens organisasies hul beswaar teen die wet asook hulle optrede met mekaar gaan deel.
Die media kan die aanbieding en oop gesprek vanaf 11:30 bywoon.
In die lig van die hoëprofiel-organisasies en indiwidue wat aan dié werkswinkel gaan deelneem, gaan daar talle geleenthede wees vir foto’s, onderhoude en video’s. Ongelukkig sal die werkswinkel nie regstreeks gestroom word nie.
Ons verwagting is dat hierdie werkswinkel ʼn groot protes oor ʼn baie wye front teen die regering se raswet en die regulasies daarvan gaan begin. Omdat soveel verskillende organisasies en mense by die werkswinkel verteenwoordig gaan wees, gaan dit ʼn wesenlike invloed op die Suid-Afrikaanse rasdiskoers hê.