Kedibone Diale-Tlabela, Gautengse LUR vir vervoer en logistiek, het die aanvalle op e-taxibestuurders en die verbranding van motors by Maponya Mall in Soweto ten sterkste veroordeel.
Die polisie ondersoek ook ’n saak van poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging ná ’n bakleiery tussen minibustaxibestuurders en e-taxibestuurders (soos Uber en Bolt).
Minibustaxibestuurders het volgens die polisie Donderdagaand e-taxibestuurders aangeval, drie voertuie afgebrand en die eienaars aangerand.
“Ons wil hierdie sinnelose aanvalle op individue en skade aan voertuie ten sterkste veroordeel. Hierdie dade is onaanvaarbaar en moet hardhandig hanteer word,” het die LUR Vrydag gesê.
“Dit kom ná ’n beweerde konfrontasie wat Donderdag tussen minibustaxibestuurders en e-taxibestuurders plaasgevind het. Daar word beweer dat minibustaxibestuurders e-taxibestuurders aangeval en drie voertuie verbrand en vier ander beskadig het by Maponya Mall se parkeerarea.”
Twee van die gebrande voertuie het glo aan ’n e-taxi-operateur behoort terwyl een aan ’n privaat persoon behoort het.
Drie mense is hospitaal toe gehaas ná die voorval met een van hulle wat beserings opgedoen het ná ’n skietvoorval, na bewering deur minibustaxibestuurders.
“Ons sal nie afgeskrik word om ’n geïntegreerde en gemoderniseerde openbare vervoerstelsel te bou deur individue wat intimidasie en geweld gebruik om hul boodskap oor te dra nie.
“Ons wens die beseerdes ’n spoedige herstel toe en doen ’n beroep op wetstoepassers om onverpoos te werk om diegene wat by hierdie barbaarse aanval betrokke was vas te trek. Hulle moet die volle mag van die gereg in die gesig staar,” het Diale-Tlabela gesê.
Die LUR het gesê die departement van paaie en vervoer het aansienlike vordering gemaak om geweld in die openbare vervoersektor uit te roei ná die Gautengse taxiberaad in 2019 en in ooreenstemming met die aanbevelings van die taxigeweldkommissie.
“Na aanleiding van die aanbevelings van die taxi-geweldkommissie, is wysigings aan die Gautengse entiteit vir openbare vervoerregulasies aangebring om alternatiewe geskilbeslegtingsmeganismes binne die openbare vervoerdiensbedryf in te stel, wat die regering aan die voorpunt plaas in die oplossing van taxi-dispute en stabiliteit in die provinsie.
“Ons doen ’n beroep op alle openbare vervoeroperateurs om van die Arbitrasiekantoor gebruik te maak om hul dispute op te los,” het die LUR gesê.
– SAnews.gov.za