Jane Sithole, DA-woordvoerder oor onderwys, het gesê die Mpumalanga-departement van onderwys is te blameer vir die plafon wat bo-op leerders by die Laerskool Dumelani naby Kwa-Mhlanga in Mpumalanga ineengestort het.

“In ’n voorval wat die afgelope week gebeur het en op sosiale media versprei is, kon gesien word hoe leerders huil en rondhardloop nadat ’n plafon in hul klas op hulle geval het. Dit is ’n verskriklike voorval, veral as in ag geneem word dat die Departement van Onderwys in Mpumalanga R311 miljoen aan die Nasionale Tesourie teruggegee het nadat hulle dit nie bestee het aan onder meer infrastruktuurinstandhouding nie,” het Sithole gesê.
Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het genoem dat beide die Oos-Kaapse en Mpumalanga departemente van onderwys R411 miljoen van hul 2022/2023-skole se infrastruktuurbegrotings sal verbeur omdat hulle versuim het om dit te bestee.
Hy het genoem dat die Oos-Kaap R100 miljoen sal verbeur, terwyl Mpumalanga R311 miljoen sal verbeur. Gondongwana het ook genoem dat die geld na beide die Wes-Kaapse en Gautengse onderwysdepartemente herlei sal word.
“Die infrastruktuur by skole soos Hoërskool Sidlamafa in Nkomazi is oud met sommige klaskamers wat krake het. Twee jaar gelede het die LUR Majuba hulle belowe dat die ou gebou gesloop sal word. Maar die ou en gebarste gebou staan nog, en leerders gebruik dit nou as ’n rookarea en is betrokke by ander ongewenste aktiwiteite,” het Sithole gesê.
Die DA sal sy eie toesigbesoek by Laerskool Dumelani gaan doen om die skade wat aangerig is, te bepaal.
Die DA sal ook aan die LUR en die departement skryf en hulle vra om ’n afvaardiging na die skool te stuur om te help om die leerders wat in hierdie voorval geraak is, te help en om die skade te bepaal.