Estelle Davies, VF Plus-raadslid in die Phokwane-plaaslike munisipaliteit, het in ’n verklaring gesê dat ’n elektriese kortsluiting net ná beurtkrag veroorsaak het dat ’n gesin van Jan Kempdorp net hul nagklere oor het na ’n brand Saterdagoggend, net na middernag.
Die eienaar van die huis, Frikkie Schoombee, het om eenuur die oggend van die rook wakker geword, net betyds om sy vrou, Marlize, en twee dogters uit die huis te kry.
Binne vyf minute se ry van die brand in Kersielaan, is die munisipaliteit se nuwe, onvoltooide brandweerstasie in Piet Retiefstraat.
“As dié projek binne die beplande tydsraamwerk voltooi is, kon hierdie huis gered gewees het,” sê Davies. “Weens probleme met goedkeuring van planne, asook ’n dispuut oor die perseel, is afhandeling van die projek van einde April na einde Junie uitgestel.”
Die brandweer in Taung, 40km van Jan Kempdorp, het wel ’n voertuig gestuur. Dit het ’n halfuur later opgedaag, maar was net betyds om die afgebrande woning aan te tref.
Intussen het die gemeenskap na vore getree om die gesin te help.
Die Laerskool Hartswater het hulle klerebank vir skooldrag oopgestel, terwyl sowel die AGS as die NG Kerk se gemeentes hulle klerebanke vir algemene klere oopgestel het. Skenkings vanuit die gemeenskap stroom ook in.
“Die VF Plus sal verseker dat geen verdere onnodige vertragings met die brandweerstasie voorkom nie,” sê Davies.
