Sowat 17 jaar ná hul bittersoet romantiese storielyn as Dezi en Liam op 7de Laan uitgespeel het, deel die SAFTA-wenner, Elma Postma, en die voormalige voorsanger van Boo!, Chris Chameleon, weer die skerm in Showmax se sielkundige rillerfliek, Horisonne.
Postma vertolk die rol van Melissa, ’n sielkundige, wat uitvind dat haar manipulerende eks, Melchior van Staden (Chameleon) ’n bewustheids-toevlugsoord (Horisonne) bedryf, waar hy oënskynlik jong mans en vroue breinspoel. Nog erger – haar vervreemde 18-jarige dogter, Adri, is nou dié kultusleier se regterhand. As Melissa dan self na die toevlugsoord gaan, waag sy haar lewe om haar dogter uit Melchior se kloue te red.
Postma vertel dat sy die week voordat sy haar oudisie vir Horisonne afgelê het, Keep Sweet: Pray and Obey gekyk het. Dié dokumentêre reeks stel ondersoek in na Warren Jeffs se fundamentalistiese Mormoonse sekte waarin vroue glo geheel en al aan mans se gesag onderwerp, asook seksueel uitgebuit is. Dit kyk ook na wat vroue moes doen om uit dié sekte te ontsnap. Elma het ook die 2018-dokumentêr Wild Wild Country gekyk wat handel oor Bhagwan Shree Rajneesh, ’n Indiese ghoeroe wat ’n kultusleier geword het en wie se belofte van gemeenskap glo eerder finansiële uitbuiting verbloem het.
“Albei draai om mense wat ’n nuwe lewe, ’n goeie toekoms, beloof word, maar uiteindelik val hulle vir iemand of iets wat als oor geld en mag (geestelik en andersins) gaan, of waardeur hulle uitgebuit word,” sê Postma.
“Die werklikheid is dat die situasie in Horisonne nie nuut is nie. Jong mense, mense in verhoudings, word gemanipuleer omdat hulle as swakkelinge geteiken word. Mense soos Melchior gee hulle iets om voor te lewe. Hoop. ’n Toekoms. Maar hulle is uiteindelik net deel van ’n siek persoon se magsbehepte spel.”
Postma het ook uit haar eie ervarings geput om haar vertolking in te kleur.
“Gelukkig was ek nog nie naby enige situasie soos hierdie spesifieke storie nie. Maar as ek terugkyk na vorige verhoudings, toe ek baie jonger en meer onseker was, is ’n mens geneig om meer te word soos iemand wat jy dink jou maat wil hê jy moet wees – om aanvaar te word, geliefd te wees. Eers daarna besef jy: ‘Goed, dit is wat gebeur het. Ek kan skielik weer myself wees; ek voel verlig en vry’. Daar is verskillende grade van hierdie gedrag in verhoudings. Maar as jy dit sien gebeur, stel ek voor dat jy jou redes om saam met iemand te wees, herevalueer,” waarsku Elma.
Vir Chris is die oorgawe van self wat Melchior van sy volgelinge eis, afgryslik bekend.
“Ek was ’n militêre dienspligtige in 1990,” sê Chris. “Ek het binne die eerste vyf weke van wat bedoel was om ’n jaar en ’n half se ‘diens’ te wees, gedros. Die druk daar was sterk. Die weermag probeer jou afbreek sodat dit jou kan herskep in ’n instrument wat sy doelwitte dien. Dit was die meeste druk wat ek al ooit in daardie verband gevoel het.”
Die opkomende ster en gesig van kykNET se Stella-veldtog, Deoudoné Van der Merwe, speel Adri. Die Fleur du Cap-benoemde en Fiësta-bekroonde storieskepper, Wessel Pretorius, het die draaiboek geskryf. Hy vertolk ook die rol van Alwyn, ’n psigopaat en een van Melissa se pasiënte – óftewel die Hannibal Lecter teenoor Melissa as Clarice, as dié The Silence of the Lambs was.
Die regie is deur die SAFTA-wenner André Velts (Die Pro, Raaiselkind, Vergeet My Nie).
Stroom Horisonne nou, op Showmax.
Kyk die lokprent: