Die LUR vir die departement van onderwys in Limpopo, Mavhungu Lerule-Ramakhanya, sê die departement is hartseer oor die ontydige dood van twee leerders wat Maandagoggend op pad skool toe omgekom het.
Twee vroulike leerders van Laerskool Sehlomola en MR Mamabolo Sekondêre Skool is dood toe ‘n skoliervervoerbus waarmee hulle gery het beheer verloor en in ‘n ou gebou vasgery het. Die leerders van Spitskop was op pad skool toe toe die ongeluk gebeur het.
Meer as twintig leerders en die bestuurder van die bus is na die Mankweng-hospitaal gehaas vir mediese aandag. Die inligting rondom die ongeluk is nog ‘n kwessie van ondersoek deur die owerhede.
Onderwys LUR, Mavhungu Lerule-Ramakhanya het haar innige meegevoel aan die twee families oorgedra en wens ‘n spoedige herstel toe aan al die leerders wat nog mediese aandag ontvang.
“Ons span maatskaplike werkers is reeds na die skole gestuur vir hulp en om die broodnodige psigo-ondersteuning te bied. Ons gebede is met die gesinne en die onderwysers gedurende hierdie moeilike tyd,” het LUR Lerule-Ramakhanya gesê.
Twee leerders is in ‘n kritieke maar stabiele toestand terwyl agtien behandel en vrygelaat is.