Die Nasionale Vergadering (NV) het die omstrede Wetsontwerp op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) aanvaar wat die weg baan vir ’n universele gesondheidsorg in die land, met die doel dat mediese skemas vervang word.
Die VF Plus beskou die wetsontwerp as die nasionalering van openbare en private gesondheidsorg in Suid-Afrika.
Die wetsontwerp beoog om die land se private gesondheidsorgstelsel te sentraliseer en só – ten minste in teorie – universele toegang tot gesondheidsorgdienste van gehalte vir alle Suid-Afrikaners te bied.
205 LP’s (waaronder 200 ANC LP’s) het ten gunste van die NGV-wetsontwerp gestem, terwyl 125 (waaronder 71 DA LP’s) daarteen gestem het.
Noudat dit goedgekeur is, moet die NGV-wetsontwerp deur die Nasionale Raad van Provinsies verwerk word.