Die Charlotte Maxeke-hospitaal
(Foto bron: City Press)
Meer as 50 elektiewe operasies is by die Charlotte Maxeke Akademiese Hospitaal gekanselleer omdat die verhittingstelsel misluk het, volgens die DA se Jack Bloom. Bloom het gesê die temperature in die operasiekamers was so laag as agt grade. Om veiligheidsredes moes dit ongeveer 18 grade wees.
Bloom het gesê dit is teleurstellend dat ‘n gebrek aan instandhouding en voortdurende toerustingonderbreking pasiënte laat ly. “Professionele bestuur is nodig om dié hospitaal se infrastruktuur reg te stel, pleks van die voortdurende gesukkel en korrupsie in die Gautengse Departement van Infrastruktuurontwikkeling,” het hy gesê.
Vroeër vanjaar is berig die hospitaal is een van die openbare gesondheidsorgfasiliteite wat ‘n lang waglys vir operasies het. Motalatale Modiba, woordvoerder vir die Gautengse Departement van Gesondheid het gesê die departement is bewus van die kwessie.