Die sogenaamde Station Strangler, Norman Simons.
(Foto bron: News24)
Shakir Smith, die voorsitter van die Parow se gemeenskapspolisiëringsforum (CPF), het mense gevra om kalm te bly ná die nuus dat Norman Simons op parool vrygelaat word.
’n Gemeenskapsdialoog is verlede week Dinsdag by die Parow-burgersentrum gevoer toe inwoners ingelig is oor die vrylating op parool van die veroordeelde kindermoordenaar, Norman Afzal Simons (56). Hy is lewenslange tronkstraf opgelê vir die moord en ontvoering van die 10-jarige Elroy van Rooyen. Tussen 70 en 80 mense uit die gemeenskap het die vergadering bygewoon. Die CPF, polisie en buurtwagte is deur die Departement van Korrektiewe Dienste in kennis gestel van Simons se naderende vrylating. Die CPF het skriftelik daarteen beswaar gemaak.
Smith het verlede week gevra dat inwoners kalm bly tydens die gemeenskapsdialoog. “Ek verstaan ook die bekommernisse van ons gemeenskap,” het hy gesê. “My persoonlike opinie oor hierdie aangeleentheid sou wees dat hy sonder parool agter tralies bly, waar daar geen kans sou wees dat hy eens sou oorweeg of die geleentheid gegun word om weer ‘n misdaad te pleeg nie. Om dit te doen sal ‘n interdik aangewend en betaal moet word, en slegs ‘n geregshof sal die parool kan omkeer. Laat ons dus wag en kyk waar dit uiteindelik gaan. Ons sal die situasie dophou soos dit ontvou.”
Verskeie inwoners by die vergadering wou weet waar Simons gaan bly, hoe hy lyk en die rehabilitasie wat hy ondergaan het terwyl hy in die tronk was.