LEAP-beampte, Toufeeq Williams, is tydens ‘n bendeskietgeveg in Mitchells Plain deur ‘n dwaalkoeël doodgemaak
(Foto bron: News24)
Die polisie het ‘n man in hegtenis geneem in verband met die moord op Toufeeq Williams, ’n beampte van die Kaapstadse wetstoepassingsbevorderingsplan (LEAP). Die 37-jarige was Sondagmiddag van diens af in Beacon Valley, Mitchells Plain, toe ‘n dwaalkoeël hom in die kop getref het.
Polisiewoordvoerder, kolonel Andrè Traut, sê die Grassy Park-polisie het Donderdagoggend ‘n 40-jarige vermeende bendelid in hegtenis geneem. “Sodra hy aangekla is, sal hy na verwagting sy hofverskyning in Mitchells Plain maak op ’n aanklag van moord,” het Traut gesê. Die polisie het geglo dat die man deur mede-bendelede in die Grassy Park-polisiëringsgebied gehuisves is. Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het die arrestasie verwelkom.