Foto Bron: Mail & Guardian
Terwyl Suid-Afrika worstel met meedoënlose beurtkrag en stygende elektrisiteitspryse, het ‘n nuwe studie deur Alumo Energy sonkragstelsels as die mees ekonomiese langtermynoplossing vir besighede beklemtoon.
Die studie, wat die koste van verskeie energie-alternatiewe vergelyk het, onderstreep die finansiële implikasies van die voortslepende nasionale energiekrisis.
“Die nasionale energiekrisis, tesame met buitensporige elektrisiteitsrekeninge en die finansiële druk van beurtkrag, het Suid-Afrikaners genoop om alternatiewe energiebronne te ondersoek,” het Rein Snoeck Henkemans, Besturende Direkteur van Alumo Energy gesê.
Alumo Energy se navorsing het gefokus op ‘n hipotetiese klein onderneming met maandelikse elektrisiteitsrekeninge wat wissel tussen R15 000 en R20 000.
Die studie het vier scenario’s ondersoek: om roosterafhanklik te bly, in ‘n kragopwekker te belê, ‘n battery- en omskakelaar-rugsteunstelsel te kies, en ‘n hibriede sonkragoplossing met battery- en omskakelaar-rugsteun te installeer.