Foto Bron: André de Villiers/ 4×4 met André
Diegene wat hou van grondpad-avonture en 4×4-verwante aktiwiteite sal bly wees om kennis te neem van die feit dat 4×4 met André vanaf Oktober weer op kykNET (DSTv-kanaal 144) te sien sal wees. Die reeks, aangebied deur bekende 4×4-spesialis André de Villiers, beloof om weereens die fokus op van die land (en selfs die van Namibië) se 4×4-roetes te plaas.
In hierdie seisoen ry André twee baie gewilde dubbelkajuit bakkies wat tans op die mark is. Die nuwe Toyota Hilux Legend en die nuwe Ford Ranger sal verskeie 4×4-uitdagings in die gesig staar. André sal natuurlik ook vir kykers meer vertel oor hoe sy bakkies die verskillende paaie en omgewings aanpak.
“Dit is ‘n groot voorreg om hierdie seisoen met twee verskillende voertuie aan te bied. Die idee is nie om die twee voertuie teen mekaar af te speel nie, maar eerder om vir kykers te wys hoe elkeen die rowwe terreine wat ons gaan verken, hanteer,” verduidelik André.
Die nuwe reeks van 4×4 met André neem kykers na die uitgestrekte vlaktes van die Tankwa Karoo, die ongekunstelde weskus, deur die ruwe klowe van die Richtersveld, tot by Lüderitz in die Namib woestyn. Dit beteken dat die reeks ‘n wye verskeidenhied 4×4 roetes insluit, om nog meer kykgenot vir 4×4-entoesiaste te bied.
“Kykers sal ook die kans kry om te sien hoe ons verskillende buitelewe en 4×4-produkte gebruik om ons reise so gemaklik as moontlik te maak,” meen André.
4×4 met André word moontlik gemaak deur ‘n verskeidenheid borge. André gebruik baie van die borge se produkte in die program, wat vir kykers ‘n eerstehandse ervaring van die produkte gee. Die borge sluit Bush Lapa, Ironman 4×4, OSRAM, BFGoodrich en SEIKEL 4×4 in.
Die program fokus egter nie net op die 4×4-bane wat André met sy twee voertuie sal aanpak nie. Die reeks sal ook handel oor die verskillende omgewings waar André homself bevind. André verken byvoorbeeld, die uitgestrekte vlaktes van die Tankwa Karoo, rotsformasies in die Cederberge, alles saam met spesialisgidse. Hy vind ook meer uit oor die Weskus, en waarom baie na die area as die “beskus” verwys. Verder sal hy onder meer tyd spandeer in die Namakwaland tydens die jaarlikse blommeseisoen. Daar is natuurlik nog baie meer waarna kykers kan uitsien!
“Ons wou graag verseker dat die reeks nie uitsluitlik oor 4×4-aktiwiteite gaan nie. Daarom kan kykers uitsien na allerhande interessanthede oor die plekke wat ons met die voertuie besoek en verken,” voeg André by.
Vanjaar spog 4×4 met André met ‘n splinternuwe tydgleuf. Die program sal vanaf 2 Oktober 2023 elke Maandagaand om 21:30 op kykNET te sien wees.