Foto Bron: AfriNuus – Alan Winde: Premier of the Western Cape
Business Western Cape is vandag tydens samesprekings oor die Wes-Kaap regering se Growth for Jobs (G4J) bekendgestel. Dié organisasie het onlangs ‘n herlewing ondergaan en bestaan uit ‘n reeks besigheidsorganisasies wat verskillende sakelui- en kamers verteenwoordig. Die AHi, WECBOF, NAFCOC en Accelerate Cape Town is onder andere deel van Business Western Cape.
Business Western Cape sal as ‘n spreekbuis dien om die privaatsektor se behoeftes en belange met die regering te deel. Sodoende hoop hulle om beter samewerking met die regering en privaat maatskappye te verseker. Die Wes-Kaap regering het tydens samesprekings vandag hulle nuwe strategie met die privaatsektor gedeel waaronder hulle met maatskappye wil werk om teen 2035 tussen 4% en 6% jaar-op-jaar werskepping in die provinsie te verseker.
Premier Alan Winde het die geleentheid bygewoon en ook beklemtoon dat dit uiters belangrik is dat die provinsiale regering hande vat met die privaatsektor om hierdie reuse doelwit te behaal. As deel van die G4J-strategie sal die Wes-Kaap regering verskillende beleggings in die provinsie maak om dit vir besighede makliker te maak om handel te dryf. Hulle wil ook hierdeur die mark stimuleer, om sodoende verdere ekonomiese groei aan teweeg te bring.