Foto Bron: Verskaf
“Om die jeug te ondersteun en te laat groei in die Bybel, is een van die suiwerste vorme van naasteliefde, iets waarna elkeen van ons kan streef.” Só sê dr. Hennie Schmidt wat die Rapportryerbeweging (RRB) se jaarlikse nasionale Bybelvasvrakompetisie oorsien.
Oor die naweek van 20 Oktober het die finale rondte van die Rapportryers se nasionale Bybelvasvrakompetisie by die ATKV-oord te Klein Kariba plaasgevind.
Die Rapportryers is trots om vanjaar vir die 44ste jaar een van die land se grootste Bybelvasvrakompetisies aan te bied. ’n Rekordgetal van 99 spanne (ongeveer 400 leerlinge) regoor die land het vanjaar aan die kompetisie deelgeneem en dit is ook die eerste jaar wat hoërskoolleerders aan die kompetisie kon deelneem.
Johan Roos, president van die Rapportryers, vertel dat die Bybelvasvra aanvanklik net as ’n plaaslike geleentheid aangebied is, maar het binne twee jaar tot ’n nasionale projek gegroei.
“Die Rapportryers is ’n Christelike organisasie waar ons Christenskap wil bevorder. Ons kan dit nie net sê nie, ons moet dit ook uitleef, daarom bied ons jaarliks die Bybelvasvra aan. Ons wil ook graag mense uitnooi om betrokke te raak. Enige iemand kan betrokke raak, dit is nie net vir ’n sekere groep nie,” sê Roos.
Tien spanne van nege laerskole het deurgedring om die finale rondte by te woon. Die hoërskole se finaal het op 30 Augustus plaasgevind, waar Hoërskool Zwartkop in Centurion die eerste plek gehaal het. Laerskool Elarduspark het met die eerste en derde prys vir die Laerskoolafdeling weggestap en Laerskool Randhart van Alberton het die tweede plek ingeneem.
Die wenskool ontvang ’n wisseltrofee en R7000 kontant. Die tweede span ontvang R5000 en die derde span R4000.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is vanjaar die beskermheer van die Rapportryers en het ook die finale rondtes die naweek bygewoon.
Daar is geen beperking op die aantal spanne wat ’n skool, gemeente of instansie kon inskryf nie. Die spanne bestaan uit vier leerders (wat nie in dieselfde graad hoef te wees nie) en daar is ook geen voorskrifte vir hoe spanne in terme van seuns of meisies saamgestel mag word nie.
Die skrifgedeeltes wat die leerlinge moes voorberei was Deuteronomium 1-4, Matteus 1:18-14 en Filippense 1-4. Die Afrikaanse 1983-vertaling met herformuleringof die Engelse NIV-Bybel kon gebruik word vir voorbereiding.
“Ek dink dit is belangrik om aan die Bybelvasvra deel te neem, want dit help ’n mens om Christelik te groei en dwing jou om die Bybel uit jou kop te ken. So bly mens ook op die regte pad,” sê Lika de Jongh van Hoërskool Zwartkop.
Vir Chay Belr Karsen (gr. 7 van Laerskool Elarduspark) was sommige vrae moeilik, maar vir ander vrae dink sy sal haar span volpunte kry.
Behalwe vir die pasmaats en kortvrae, was die vraestel vir Tyron Engelbrecht (gr. 7) van Laerskool Pietersburg-Oos “nogal maklik en lekker”.
“Ek leer so baie lewenslesse van die Bybel. Ek leer eintlik so baie dat as my ma my iets vra, dan het ek al die antwoorde vir haar,” vertel Isabella Peach (gr. 7) van Laerskool Elarduspark.
“Bybelvasvra is vir my lekker, want ek geniet dit om saam met ander uit die Bybel te leer,” sê Lisa Sydney van Laerskool Pietersburg-Oos.
Juffrou Dela Kruger van Laerskool Pietersburg-Oos skryf al spanne in vir die Rapportryers se Bybelvasvra van 1997 af. Sy vertel hoe sy met haar kind as baba in die arm gesit en Bybelvasvra-vraestelle gemerk het.
“Soveel kinders kom na my toe terug en vertel my wat hulle kon toepas in hulle eie lewe, net omdat hulle aan die Bybelvasvrae deelgeneem het. Selfs universiteitstudente het al vir my kom sê dat die Bybelvasvra-kompetisie hulle geleer het hoe om te leer,” sê Kruger.
Die kinders moet 18-20 hoofstukke uit die Bybel voorberei vir die kompetisie. Dit is ongeveer 800 verse. Die toets bestaan uit ses korter vraestelle en daar is ’n tydlimiet aan verbonde om elke vraestel te voltooi. Die toets se duur is 60 minute.
“Dit is ongelooflik om te sien hoe die Bybelvasvra die kinders se leesvaardigheid en selfvertroue verbeter. Die Bybel is op ’n hoër standaard geskryf as wat van ’n laerskoolkind verwag word om te kan lees, daarom berei ons die kinders van gr. 3 af al voor,” sê Kruger.
Kruger vertel verder hoe sy die kinders se regterbreine met die Bybel stimuleer. Moeilike hoofstukke in die Bybel soos die saligsprekinge leer sy die kinders visueel uitbeeld om begrip te bevorder. Die spanne wat inskryf, is ook veelsydige leerlinge en is by baie aktiwiteite betrokke.
“Dit is moeilik om ’n tyd te kry vir voorbereiding tussen die kinders se besige programme, daarom spandeer ons twee keer ’n week tussen sesuur en agtuur in die aand om voor te berei.”
Die Rapportryerbeweging hoop om volgende jaar nog meer inskrywings te ontvang, veral van hoërskole, sodat die projek kan aanhou groei en meer jongmense die Bybel ter harte sal leer ken.