Leah is beslis die naam op almal se lippe! Hulle wil óf haar vriendin wees óf soos sy wees óf net sê hulle ken die bondel energie wat altyd tyd maak vir ander.
Vandag is sy terug met ‘n splinternuwe enkelsnit wat ‘n moet is vir elke speellys hierdie somer. Of jy nou om die vuur kuier, ‘n vleisie braai of net lekker wil langarm – Ligte Laag sal jou partytjie behoorlik skop gee.
“Ons almal het ons skaam oomblikke, so dis soms makliker om te gaan vir dít wat jy wil hê as die ligte laag is. Jong liefde, skaam liefde, ware liefde, dis iets waarmee elkeen van ons kan vereenselwig”
Leah wat ook deesdae te sien is as die aanbieder van Kyknet se Lottoland Help ‘n Dorp was van die begin tot die einde betrokke met die opname van hierdie liedjie, en het self ook ‘n lyric of drie geskryf saam met die talentvolle Hugo Ludik & Nic Jordaan van Muse studios.
“Dit was nog altyd vir my ‘n uitdaging om self te skryf en ek het geweet ek sal êrens moet begin. So dit was fantasties om saam met Hugo en Nic te kon sit en van die begin af saam te kon skryf. Om persoonlik insette te kan lewer is baie bevredigend en om te weet jy lewer ‘n bydrae aan die span is fantasties! Ek dink dis die eerste keer dat die frase ‘Ligte Laag’ gebruik word en ons 3 het dit saam geskep!”
Luister “Ligte Laag” hier – https://Leah.lnk.to/LigteLaag